|
|
Bejaarde vrou in Benoni vermoor, man beseer
2010-02-15 11:37
Mnr. José Vieira voor die huis waar hy en mev. Jannecke op haar vermoorde ma en erg beseerde pa afgekom het.
René-Jean van den Berg en Wolfram Zwecker
Die moordenaars van ’n bejaarde vrou van Northmead, Benoni, was teen gister nog op vrye voete.
Mev. Alice Botha (75) is in die gang van haar huis dood weens ’n hou teen die kop.
Haar
man, Jack, (ook 75) word in die hoësorgeenheid van die Unie-hospitaal
in Alberton behandel waar sy toestand gister nog as bedenklik bestempel
is.
’n Onbekende aantal mense het die egpaar Vrydagnag in hul
huis in Negende Laan oorval, het konst. Ron Nchali,
polisiewoordvoerder, gesê.
Die egpaar se dogter, mev. Antoinette
Jannecke, het op hulle afgekom toe sy en haar vriend, mnr. José Vieira,
van ’n fliek by die huis gekom het.
Vieira het gesê toe hulle omstreeks 23:00 by die huis kom, was die garagedeur oop en was daar bloed op die deur se handvatsel.
“Dit was alles vreemd. Antoinette is eerste by die huis in en het haar pa op die vloer in die kombuis gekry.”
’n Vreemde man het uit een van die vertrekke kombuis toe gekom om by die huis uit te gaan, het Vieira gesê.
“Hy het ’n baie welkome houding gehad, asof hy die volste reg het om in die huis te wees.”
’n Struweling het buite die huis tussen Vieira en die vreemdeling ontstaan, maar die vreemdeling het hom glo nie teëgesit nie.
“Antoinette
het intussen histeries begin gil en ek het besef sy is alleen in die
huis. Ek het toe net ingehol en hy het weggekom.”
In die gang na die slaapkamer het mev. Botha se lyk gelê.
Konst.
Godin Nyathi, polisiewoordvoerder, het gesê dit is nog nie bekend wat
alles gesteel is nie, maar ’n plastieksak met selfone en juwele is in
die tuin opgetel.
Lees die oorspronklike koerantberig hier
6 Weke, 6 moorde
2010-02-12 01:26
mnr. Theunis (85) en mev. Suzie (83) Venter
Hilda Fourie
Ses bejaardes is die afgelope ses weke in Pretoria vermoor.
Gisteroggend is die lyke van ’n bejaarde egpaar in hul huis in Mayville gevind.
Mnr.
Hein Engelbrecht (33) het gisteroggend op die lyke van sy oupa en ouma,
mnr. Theunis (85) en mev. Suzie (83) Venter, afgekom.
Die egpaar, wat verlede week hul 59ste huweliksherdenking gevier het, was vermoedelik al sowat 12 uur dood toe hulle gevind is.
Mnr.
Venter, wat erg aangerand is, het op sy maag in die sitkamer gelê. Sy
vrou, wat gesukkel het om te loop nadat sy vroeër ’n beroerte gehad
het, is vermoedelik verwurg. Engelbrecht het haar lyk in die gang gekry.
Die vermoede dat sy verkrag is, sal eers by ’n lykskouing bepaal kan word.
Slegs die egpaar se ou Volkswagen Kombi (met registrasienommer KMC 163 GP), ’n Play-Station2 en ’n DVD word vermis.
Dit is nie bekend hoeveel rowers die egpaar oorval het nie.
Insp.
Wanda Olivier, polisiewoordvoerder, het gister gesê Engelbrecht, ’n
veiligheidswag, het omstreeks 06:15 ná sy nagskof by die huis aangekom.
Hy
woon saam met sy grootouers in dié huis op die hoek van Louis
Trichardtstraat en Mortimerlaan, oorkant die Laerskool Mayville.
“Toe
hy by die huis kom, het die hek wawyd oopgestaan, die veiligheidshek
van die stoep was oop en die Kombi het nie onder die afdak gestaan
nie,” het Olivier gesê.
“Hy het sy motorfiets op die gras geparkeer en die huis binnegestorm waar hy op sy ouma en oupa se lyke afgekom het.
“Hy het hulle probeer wakker maak, maar hulle wou nie wakker word nie.”
Die
egpaar se boerboel, Luna, het onder die kombuistafel gelê toe
polisielede op die toneel kom. Sy is blykbaar erg geskop en geslaan en
het nie beweeg nie totdat die polisie die toneel klaar ondersoek het.
Me.
Yvette Engelbrecht (29) het in trane gesê haar oupa en ouma wou nooit
na ’n ouetehuis gaan nie. Hulle wou nie eens by haar in Kempton Park
gaan woon nie. “My oupa het altyd gesê hulle sal doodgaan as hulle in
’n ouetehuis gaan bly. Hulle het baie goeie harte gehad.”
’n Saak van huisroof en moord word ondersoek. ’n Klag van verkragting sal moontlik later bygevoeg word.
Bejaardes wat vermoor is:
* 3 Februarie: Dr. Francois Steenkamp (71), ’n afgetrede kardioloog
wat jare lank in die Medi-Clinic-harthospitaal in Arcadia gewerk het,
is wreed in sy huis in die Newlands Park-aftreeoord in Pretoria
vermoor. Steenkamp is glo erg aangerand, sy kop is stukkend geslaan en
sy hande was agter sy rug vasgebind.
* 25 Januarie: Me. Elsa
Blignaut se lyk is twee dae ná haar 83ste verjaarsdag in haar bed in
haar huis in Nieuw Muckleneuk, Pretoria gekry. Sy is vermoedelik
verwurg.
* 13 Januarie: Mev. Ria van den Bergh (65) is
helder oordag in haar huis in Hermanstad, Pretoria deur rowers oorval
en doodgeslaan.
* 8 Januarie: Mev. Kitty Botha (83) is in
haar huis in Lyttelton, Centurion oorval, vasgebind, gewurg en
doodgeslaan voordat haar huis aan die brand gesteek is.
* November 2009: Kol. (afgetree) Piet Swemmer (89) is in sy huis in Waterkloofrif, Pretoria met ’n hamer doodgeslaan.
- Beeld
Lees die oorspronklike koerantberig hier
Hartdokter vermoor
2010-02-04 02:02
Mev.
Willemina Habile (60), dr. Francois Steenkamp (71) se huishulp wat
gisteroggend op sy lyk in sy huis in die Newlands Park-aftreeoord in
Pretoria afgekom het. Foto’s: theana calitz
’n Afgetrede
kardioloog wat jare lank in die Medi-Clinic-harthospitaal in Arcadia
gewerk het, is wreed in sy huis in die Newlands Park-aftreeoord in
Pretoria vermoor.
Dr. Francois Steenkamp (71) is glo erg aangerand, sy kop stukkend geslaan en sy hande agter sy rug vasgebind.
Mev. Willemina Habile (60), Steenkamp se huiswerker, het gister omstreeks 08:30 op sy lyk afgekom.
Kapt.
Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het gesê Steenkamp het ’n groot
wond aan sy kop gehad en dit lyk of hy met sy moordenaars gestoei het.
Volgens
Weilbach was die huis erg geplunder en byna elke hangkas en laai
uitgegooi. Daar was egter geen teken van gedwonge toegang nie.
Sy het gesê die moordenaars het met Steenkamp se wit Toyota Tazz gevlug.
Volgens ’n betroubare bron is verskeie meubels in die huis rondgeskuif of -gegooi.
Habile het gister aan Beeld gesê toe sy daar kom, was die veiligheidshek oop en die voordeur op ’n skrefie oop.
“Ek
werk gewoonlik Maandae vir mnr. Steenkamp, maar vanoggend moes ek kom,
want daar was komberse wat ek moes uithang. Ek het die deur oopgestoot
en ingestap. Ek het geroep, maar hy het nie geantwoord nie.
“Toe ek in die kamer kom, het ek voete onder die bed sien uitsteek,” het Habile vertel.
Weilbach
het gesê Habile het na die verpleegsters in die aftreeoord gehardloop
en hulle het Steenkamp se kinders en die polisie ontbied.
Dié
moord is gepleeg kort nadat die onderneming wat verantwoordelik is vir
veiligheidsmaatreëls in die oord in die pad gesteek is omdat die
onderneming glo “te slap” is.
“Dié man was een van die beste
hartspesialiste in Pretoria en nou is hy dood,” het mnr. John Corbitt
(72), Steenkamp se buurman, gesê.
Volgens hom het twee mans twee
weke gelede eenvoudig by die hoofhek verby die veiligheidswagte gestap
en ’n vrou se handsak, selfoon en juwele uit haar huis gesteel.
“Ons
(die inwoners) het besluit om ontslae te raak van die
veiligheidsonderneming, want hulle het volgens ons nie hul werk gedoen
nie. Dié maatskappy sal net tot einde vandeesmaand hier wees en dan
neem iemand anders oor.”
Habile het gesê toe sy vir Steenkamp begin werk het, het sy kinders gewaarsku dat hy “baie parmantig” kan wees.
“Maar ons het mekaar lekker verstaan.
“Nou is hy dood, maar ek weet hy is by die Here.”
Steenkamp het die afgelope vyf jaar in die oord gewoon.
Sy twee seuns en dogter wou gister by sy huis nie met die media praat nie.
Weilbach
het gesê die Sunnyside-trio-taakspan ondersoek ’n klag van huisroof en
moord. Mense met inligting oor die voorval kan die polisie se
noodnommer 10111 bel.
- Beeld
Lees die oorspronklike koerantberig hier
‘Julle bliksems!’ toe word pa van 2 doodgeskiet
Buks Viljoen
“Dankie, liewe Jesus, vir ons mooi nuwe huis en dat ons so gelukkig is.”
Minute
nadat die vyfjarige Lauren Bezuidenhout van Nelspruit die afgelope
naweek dié gebedjie opgesê het, is haar pa, Bossie (45), doodgeskiet.
Kort
voor die moord het mnr. Bezuidenhout, sy vrou, Karen (39), en hul
kinders, Lauren en Jarrod (11), saam in die kombuis melkskommel
gedrink. Mnr. Bezuidenhout se ma, Tina (65), was elders in die huis
doenig.
Die gesin het Saterdag in hul nuwe dubbelverdiepinghuis in die gesogte Shandon Estates in Nelspruit ingetrek.
Mnr. Bezuidenhout is omstreeks 20:30 na die onderste verdieping van die huis om Jarrod in die bed te gaan sit.
In
’n stadium het mev. Bezuidenhout gehoor hoe haar man skree: “Julle
bliksems!” het mev. Karin Visagie, ’n vriendin van die gesin, gister
aan Beeld vertel.
Hy het hom vermoedelik teen inbrekers vasgeloop. Toe het ’n skoot geklap. Hy is in die nek getref en is op slag dood.
“Skaars
ses uur voor sy sinnelose moord het ons nog op die huis se stoep
gestaan en het hy vir my gesê hoe gelukkig hy nou is,” het Visagie gesê.
Mev.
Bezuidenhout word oormôre 40. “Bossie sou haar as verrassing vir ’n
romantiese naweek wegneem. Pleks van partytjie hou beplan ons nou sy
begrafnis.”
Visagie se man, Ronnie, was Bezuidenhout se
boesemvriend. Die twee het mekaar 35 jaar geken. Bezuidenhout, wat in
1984 ’n matrikulant aan die Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier was,
het ’n jaar gelede ’n onderneming in Nelspruit by mnr. Visagie gekoop.
“Dit was sy lewensdroom om terug te kom Nelspruit toe,” het mev. Visagie gesê .
Bezuidenhout
het in Mei 2009 van Pretoria, waar hy in Silver Lakes gebly het,
Nelspruit toe getrek. Sy gesin het in November, nadat die skole gesluit
het, ook daarheen verhuis. Hulle het Saterdag uit hul huurhuis na hul
nuwe droomwoning getrek.
Supt. Gerrie Agenbag,
speurtakbevelvoerder van die polisie op Nelspruit, het gesê hulle
vermoed Bezuidenhout is met ’n rewolwer doodgeskiet. ’n Koeëlpunt is in
die moordkamer gekry, maar geen doppie nie.
Volgens Agenbag is
dit nie seker hoeveel aanvallers daar was nie. “Spore wat ons buite die
huis gekry het, wys dit kan moontlik twee of drie wees.”
Enigiemand met inligting kan Agenbag by 013 759 1108 bel.
Shandon
Estates, wat bemark word as ’n hoë-sekuriteitskompleks, het die
afgelope twee maande onder ’n vlaag van misdaad deurgeloop.
Mnr.
Charles Venter, ’n oud-burgemeester van Nelspruit en buurman van die
Bezuidenhouts, is laat verlede jaar self in sy huis hier aangeval en
erg aangerand.
- Beeld
Lees die oorspronklike koerantberig hier.
Man voor sy tweeling vermoor
2010-01-18 23:01
Virginia Keppler
Drie
gewapende rowers het ’n tienjarige tweeling van Midrand met vuurwapens
teen die kop aangehou en toe hul pa voor hul oë doodgeskiet.
Mnr.
Kobus Snyman (42) is in die hart geskiet. Sy ouer dogter, Lenika (16),
en sy vrou, Leenette (38), het ook gesien hoe hy geskiet word.
Die
rowers het Snyman se skoonma en skoonsuster, mev. Shirley (57) en me.
Debbie van der Vyver (34), en ’n vriendin, me. Eureke Kriel, ook
aangehou.
Die vroue en kinders het Vrydag omstreeks 22:30 op die
stoep van Snyman se huis in Allanweg in Glen Austin gesit en kuier toe
die rowers toeslaan.
Snyman was in die sitkamer waar hy voor die TV aan die slaap geraak het.
“Drie
mans in blou baadjies het aangeloop gekom. Ek het nog gedink dit is die
polisie, maar toe sit een sy vinger op sy lip en wys ons moet stilbly,”
het me. Van der Vyver gister vertel.
“Hulle het seker oor die
heining gespring, want die hekke was gesluit. Hulle het hul vuurwapens
teen die tweeling se koppe gedruk. Ons het almal begin skreeu.”
Dis toe dat Lenika haarself byna bo-oor die tweeling gooi en hulle in haar arms toevou om hulle te probeer beskerm.
“Ek het hulle (die rowers) in die oë gekyk en gesê: ‘Nee!’ Toe skreeu ek: ‘Dad’!” het sy vertel.
Snyman
het wakker geword. “Maar nog voordat hy die deur (dis ’n glasdeur) kon
oopmaak – sy hand was op die handvatsel – het die een rower hom
geskiet,” het me. Van der Vyver gesê.
Snyman het nogtans na die
slaapkamer begin hardloop om vermoedelik sy pistool te gaan haal, maar
het op die trappe dood neergeval.
Die rowers het ’n skootrekenaar en selfone gevat “voordat hulle doodkalm weggestap het”, het me. Van der Vyver gesê.
Volgens haar het haar swaer “soos ’n engel” gesing en was hy lid van die Centurion-kamerkoor.
Volgens
mev. Van der Vyver het sy die gesigsuitdrukking van die man wat haar
skoonseun geskiet het, gesien “en ek kon sien dit is nie die eerste
keer dat hy moor nie”.
“Ek wil hê die minister van polisie moet my kom sê wat hy gaan doen. Gaan die regering vir die kinders sorg?” wou sy weet.
Snyman se vrou is getraumatiseer en toon volgens haar ma in dié stadium geen emosie nie.
“Dit is asof Leenette in ’n slegte droom is.”
Mnr.
Kevin MacInnest (44), ’n familievriend wat eerste op die toneel was,
het gesê dit is skrikwekkend dat Suid-Afrikaners ná 15 jaar van
demokrasie in vrees leef. “Niemand van ons is bullet proof nie. Kobus
was nie ’n bedreiging vir hulle nie.
“Hy was ’n groot, sagte
teddiebeer van 110?kg. Hy het elke dag met ’n ‘Shanana’-glimlag (’n
breë glimlag) begroet,” het MacInnest gesê.
Die familie het
gister die Anderson-groep, ’n maatskappy waar Snyman onlangs begin werk
het, en vriende en familie van so ver as Australië bedank vir hul
ondersteuning en gebede.
Snyman laat ook ’n seun, Tyron Snyman (14), agter.
Insp. Mmakgomo Semono, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie die moord en gewapende rooftog ondersoek.
- Beeld
Lees die oorspronklike koerantberig hier
Taxi eis meisie
2010-01-14 00:46
Thinus Dippenaar
’n
Meisie van Vereeniging wat verlede week haar matriekuitslae gekry het,
is dood nadat ’n taxi haar op haar negentiende verjaarsdag doodgery het.
Me.
Yvonne van Deventer was Maandag saam met mnr. Martin Posthimus (20),
haar kêrel, op pad na haar ouerhuis nadat hulle haar verjaardag by ’n
restaurant gevier het.
Sy het verlede week haar matriekuitslae gekry. Die ongeluk het skaars 2km van haar ouerhuis af gebeur.
Posthimus het ernstige kopbeserings opgedoen.
Haar
ouers, mnr. Tommy en mev. Brenda van Deventer, het van die ongeluk
gehoor toe Yvonne, hul oudste dogter, nie soos afgespreek om 23:00 tuis
was nie. Mev. Van Deventer het Yvonne op haar selfoon gebel, maar ’n
paramedikus het geantwoord en haar die slegte nuus meegedeel.
’n Taxi het vermoedelik nie by die vierrigting-stopteken op die Boy Louw- en Houtkopweg-kruising in Vereeniging stilgehou nie en die motor getref waarin die paartjie gery het. Yvonne is op slag dood,
Posthimus,
’n vakleerling by ’n ingenieursmaatskappy in Vanderbijlpark, is deur
paramedici van ER24 en Emfuleni-nooddienswerkers op die toneel behandel
voordat hy per ambulans na die Vereeniging Medi-Clinic geneem is.
Volgens mnr. Johannes van Deventer (48), Yvonne se oom, is Posthimus eergister geopereer om bloeding op sy brein te verlig.
“Hy word in die waakeenheid onder verdowing gehou totdat sy toestand verbeter,” het Van Deventer gesê.
“Ons bid vir Martin en hoop en vertrou hy sal volkome herstel.”
Die taxibestuurder het ligte beserings opgedoen en is na die Sebokeng-hospitaal geneem.
Die Vereeniging-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Volgens
Van Deventer was Yvonne ’n matriekleerling aan die Hoërskool Overvaal
in Vereeniging en sy het ’n week gelede gehoor dat sy matriek met
universiteitsvrystelling geslaag het.
Sy wou grafiese ontwerp studeer, maar wou eers vir ’n jaar werk.
“Ons gaan die opgewekte, altyd laggende kind wat graag stories vertel het, baie mis,” het Van Deventer gesê.
Dit gaan volgens hom “goed met haar pa en ma, maar hulle is erg getraumatiseer oor die verlies van hul dogter”.
Buiten haar ouers, word sy oorleef deur haar broers, Warren (22) en Tommy (20), en susters, Elsabie (17) en Danielle (16).
Die sussies is albei leerlinge aan die hoërskool waar hul ousus pas gematrikuleer het.
Haar verassingsdiens word môre om 11:00 in die Volle Evangelie Kerk in Vanderbijlpark gehou.
- Beeld
Lees die oorspronklike koerantberig hier
Vrou (64) in haar huis aangeval, vermoor
2009-12-10 09:46
André Damons
’n Duitssprekende vrou is in haar huis in Rooseveltpark, Johannesburg, vermoor.
Haar vriend, ’n bekende motorhandelaar, is in Januarie langs die N14-hoofweg vermoor.
Die 64-jarige vrou is vermoedelik tussen eergister 11:00 en gister 08:00 doodgeslaan deur iemand wat sy geken het.
Sy het alleen in die huis in Anton van Wouwweg gebly en glo haar pensioengeld daar versteek.
Haar naam is nog nie bekend gemaak nie omdat haar familie nog van haar dood in kennis gestel moet word.
In
Januarie is mnr. Dieter Fürrutter (65), ’n vriend van die vrou en
eienaar van Dieter Car Sales, vermoor toe hy sy vriend mnr. Wolfram
Ebel, wie se motor op die N14 naby die Diepsloot-plakkerskamp onklaar
geraak het, gaan help het.
Gister het die vrou se bure onraad
vermoed toe hulle haar nie soos gewoonlik in die tuin sien werk het
nie. Hulle het die polisie gebel, het insp. Bokkie Keulder,
polisiewoordvoerder, gesê.
Dit wil voorkom of haar aanvallers haar in die badkamer oorval en oor die kop geslaan het.
“Toe
die polisie by die huis ingaan, het hulle die vrou dood op die
badkamervloer aangetref. Ons weet net sy is oor die kop geslaan, maar
weet nog nie waarmee nie,” het Keulder gesê.
’n Selfoon,
juweliersware, beursie en kontant word uit die huis vermis. Keulder het
gesê die aanvallers het die huis omgekrap op soek na goedere om te
steel.
Die polisie vermoed die vrou het haar moordenaars geken. Daar was geen teken van ’n inbraak nie.
’n Provinsiale ondersoekspan van die polisie ondersoek die moord.
Lees die oorspronklike koerantberig hier
‘My man het die koeël vir ons gevat’
2009-11-23 00:46
Susan Cilliers
Twee kinders het verlede Donderdagoggend tjoepstil onder ’n kombers weggekruip nadat huisrowers hul pa in die maag geskiet het.
Mnr. Danie Labuschagne (37) van Brakpan aan die Oos-Rand is enkele ure later aan inwendige bloeding dood.
“Hy het vir my gekyk asof hy wou vra ‘help my’,” het Labuschagne se dogter, Monique (12), gister vertel.
Labuschagne
sou Kersdag 38 jaar oud geword het, het sy hartseer vrou, Madelein
(37), vertel van haar hoërskoolliefde wat “haar alles was”.
Die rowers het hul sitkamer se skuifdeur Donderdag in die vroeë oggendure oopgedwing.
“Ek en Danie het wakker geword toe hulle in ons kamer was.
“Drie mans het met flitse op ons geskyn en gesê: ‘Get up, get up’.
“Hulle
het die komberse van ons afgeruk. Toe ek en my man opstaan, het een
rower hom in die maag geskiet. Danie het: ‘Eina’ geskree en geval,” het
me. Labuschagne vertel.
Monique en Danie (14) het wakker geword toe hul pa geskiet is.
“Ek
het gebid dat die Here sy lewe spaar,” het Danie jr. gister vertel.
Monique het ná haar pa se pynkreet net “gehoop dis nie ernstig nie”,
het sy vertel.
Sy is na haar boetie se kamer waar die
twee doodstil teen mekaar onder ’n kombers lê en wegkruip het. Die
rowers het onder meer juwele, selfone, klere en ’n skootrekenaar
gesteel.
“My man het die bullet vir ons gevat. Hy het
nie teëgestribbel nie en selfs aan die boewe verduidelik waar die
skootrekenaar is. Ons het hulle selfs sirs genoem,” het me. Labuschagne
vertel.
Sy het aan die voetenent van die bed gesit en vir haar man gesê: “Bid net my man, bid net.”
Nadat
die rowers die huis geplunder het en weg is, het mnr. Labuschagne
gepleit: “Maak net gou, maak net gou.” Sy familie wou hom optel en in
’n motor hospitaal toe neem, maar hy het gesê hy het te veel pyn en dat
hulle hom moet neersit. Hy is in ’n ambulans hospitaal toe, waar hy net
ná 04:00 Donderdagoggend dood is. “Ek het aan hom gevat en hom vertel
hoe lief ek hom het,” het me. Labuschagne gister vertel.
Haar man was ’n topfiks elektrisiën wat aktief by die kerk betrokke was.
Hy
was ’n marathon-atleet wat onder meer die Comrades gehardloop het.
Danie jr. en sy pa het elke oggend 5 km gedraf. “Ek het my pa reeds
belowe ek sal steeds elke oggend gaan draf.
“Hy wou altyd aan die Ysterman-kompetisie deelneem en ek het besluit ék gaan dit nou doen as ek 18 is.”
Danie en Monique is albei besig met eksamens.
Danie sr. “het vir die Here geleef”, het sy vrou gesê. “Hy was reguit, behulpsaam, huislik en het gehou van kamp.”
Monique het gesê haar pa “was lief” vir hulle en het hulle “gelukkig gehou”.
Kapt.
Mack Mngomezulu, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van huisroof
en moord word ondersoek, maar die misdadigers is nog soek.
Mnr. Labuschagne word Donderdag-oggend uit die Christian Family Church International in Boksburg begrawe.
- Beeld
Lees die oorspronklike koerantberig hier
Ek kan nie sonder hom lewe nie,’ gil sy
2009-11-01 23:10
Fanie van Rooyen
‘Asseblief Here, moet hom nie wegvat nie. Ek kan nie sonder hom lewe nie.”
So
het mev. Anita Woest (50) eergister geskreeu oomblikke nadat haar man
deur een van sowat tien gewapende rowers by die Klipeiland-slaghuis
buite Bronkhorstspruit doodgeskiet is.
Die bende het helder oordag by die slaghuis op die R25-pad toegeslaan.
Mnr.
Pieter Woest (55), bestuurder van die slaghuis, het kort tevore saam
met sy vrou in die slaghuis gewerk voordat ’n werker vir hom kom sê het
iemand beroof die gebou langsaan.
Hy het sy rewolwer gegryp en in die parkeerterrein in drie van die rowers vasgehardloop.
Hy
het op die rowers losgebrand en vermoedelik een rower twee keer getref
voordat ’n vierde rower, wat agter ’n pilaar versteek was, hom in die
rug en in die kuit getref het.
“Toe ek by hom kom het daar reeds
bloed by sy neus en mond uitgekom,” het ’n emosionele mev. Tokkie Human
(53), ’n kassier wat deur die rowers aangehou is, gister gesê.
Woest is vermoedelik in die hart getref en is op die toneel dood.
Kapt.
Sipho Zulu, polisiewoordvoerder, het gesê die rowers het omstreeks
12:30 in ’n roomkleurige Toyota Quantum-minibussie by die slaghuis
toegeslaan.
Mev. Suzette Olivier, eienaar van die slaghuis, het
saam met Human in dié gebou agter die toonbank gewerk toe die rowers
daar ingebars het.
“Ek was besig om ’n klant te bedien toe ’n
man met ’n swart baadjie ingestap en ons veiligheidswag teen die grond
gegooi het,” het Human gesê.
Dié rower het ’n enkele skoot teen die grond langs die veiligheidswag geskiet.
“Suzette
het deur toe gestap om die man te konfronteer toe ’n tweede rower
ingestap en haar met sy vuurwapen agter die toonbank ingedwing het.”
Een van die rowers het langs Human stelling ingeneem en ’n handwapen in haar sy gedruk terwyl die derde rower ingestap het.
“Hulle het die vuurwapens op ons gerig en heeltyd gesê: ‘Waar is die geld? Ons gaan julle skiet, ons gaan julle doodmaak.’?”
Human
en Olivier het die kasregisters oopgemaak. “Die twee langs ons het soos
diere op die geld toegesak. Daarna het hulle met die geld uitgehardloop
en ek het twee skote gehoor,” het sy gesê.
“Ek wou weghardloop en was op pad uit toe ek nog twee skote gehoor en deur die venster sien hoe Pieter neersak.”
Van agter doodgeskiet
2009-09-27 22:13
Virginia Keppler
Die 55-jarige mev. Isabel Schonken is die naweek op ’n kleinhoewe oos
van Pretoria van agter doodgeskiet terwyl sy vermoedelik in haar huis
se gastebadkamer vir haar moordenaars probeer wegkruip het.
Sy
is die tweede persoon wat binne 24 uur in ’n gewapende plaasaanval in
dié omgewing vermoor is. Nog twee mense is gewond en ernstig beseer in
dié aanvalle.
Mnr. Lars Schonken (56), haar man en ’n sakeman, is in die bolyf geskiet in die aanval eergister om 02:00 naby Klipkop.
Mnr.
Schonken se skedel en gewrig is ook gebreek toe die rowers hom
aangerand en met ’n pistool gekap het. Hy sterk aan in die Little
Company of Mary-hospitaal in Groenkloof, Pretoria.
Beswaarlik 24
uur vroeër is mnr. Sheun Anderson (18) Vrydag in die vroeë oggendure op
’n kleinhoewe by Wag-’n-bietjieskop, buite Bronkhorstspruit, ook in ’n
plaasaanval doodgeskiet.
Oomblikke voordat hy geskiet is, moes
sy ma, mev. Jeanine Anderson, toekyk hoe haar man, Robert (47), eienaar
van ’n boumaatskappy, twee keer in die maag geskiet word.
Oor
die tweede voorval het me. Héléne Rumsey (52), suster van mev. Schonken
wat ’n klipgooi van die Schonken-egpaar woon, gesê die rowers het ’n
elektriese heining wat reg om die kleinhoewe gespan is stukkend geknip.
Hulle het deur ’n oop glasdeur by die huis ingekom.
“Hulle het
Lars in die slaapkamer oorval,” het Rumsey vertel. “Dit wil voorkom of
my sussie in die sitkamer voor die televisie aan die slaap geraak en
wakker geskrik het toe hulle Lars skiet.
“Sy is kort daarna deur die hart geskiet.
“Die rowers het probeer om Lars ook deur die hart te skiet, maar dit was gelukkig net ’n vleiswond,” het Rumsey bygevoeg.
Mnr.
Schonken het gevolglik sy bewussyn verloor. Toe hy kort daarna bykom,
het hy sy pistool uit die kluis gaan haal en een van die rowers
geskiet.
Hulle het volgens Rumsey met haar suster se handsak en selfoon en haar swaer se skootrekenaar gevlug.
Mnr.
Schonken het sy dogter, mev. Sonja Smit, en haar man gebel. Hulle woon
ook op die kleinhoewe. Smit se man, wat nie sy voornaam genoem wil hê
nie, het sy bebloede skoonpa in die sitkamer en sy skoonma in die
badkamer gekry. “Sy was reeds dood,” het hy gesê.
Hy het sy skoonpa na die hospitaal geneem.
Rumsey het gesê die egpaar se jongste dogter, Alma (17), was nie tydens die voorval tuis nie.
Sers.
Monique Vermeulen, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het ’n
bloedspoor tot by ’n grondpad naby die kleinhoewe gevolg waar die
verdagtes moontlik in ’n voertuig geklim en gevlug het.
Die polisie het dokters en mediese personeel gevra om op die uitkyk te wees vir ’n man met ’n skietwond.
Volgens Rumsey het rowers twee weke gelede by háár huis probeer inbreek, maar die alarm het afgegaan en hulle het gevlug.
Lees die koerantberig hier
|